hierdie is my hemel, my stukkie grond:
saffiere, smarag, blou doudruppels
purper strale val oor die berge
die nagtegaal se sang: eindeloos, weemoedig
saffiere, smarag, blou doudruppels
‘n winterlandskap in wolke opgesluit
die nagtegaal se sang: eindeloos, weemoedig
lig in die donker – dagbreek kom
‘n winterlandskap in wolke opgesluit
purper strale val oor die berge
lig in die donker – dagbreek kom
hierdie is my hemel, my stukkie grond
(Elizabeth Punt)
Die stap teen die berg op is altyd die moeite werd
Klippetieklap, klippetieklap
By die stalle hyg ek na my asem
Die swart hings runnik hardop
Klippetieklap, klippetieklap
Die wind in my hare jaag my hartklop
Die swart hings runnik hardop
Sy spiere span styf oor sy liggaam
Die wind in my hare jaag my hardklop
By die stalle hyg ek na my asem
Sy spiere span styf oor sy liggaam
Die stap teen die berg op is altyd die moeite werd
(Charmé Agenbag)
Versteekte woorde
hou op lees:
en krap in die sand…
die soet basiliekruid -
vars in jou hand
en krap in die sand…
‘n knippie sout;
vars in jou hand
‘n spoeldiamant
‘n knippie sout;
die soet basiliekruid –
‘n spoeldiamant
hou op lees:
Langafstrand
Anderkant die horison:
Waar die see die strand ontmoet,
Trek die gety nou terug;
En in rotspoele krioel die lewe
Waar die see die strand ontmoet,
Daar spoel die seeslakkies uit –
En in rotspoele krioel die lewe
Soggens en saans teen ’n verre kus
Daar spoel die seeslakkies uit –
Trek die gety nou terug;
Soggens en saans teen ’n verre kus
Anderkant die horison: